Germany 4:1 England, 86:32 and ticking…

For those who don’t understand Afrikaans, copy and paste the text into Google Translate. (The translation is close-ish!)

Besluit ‘n klompie van ons toe gister om die groot aksie by die Fan Park op die Kaapse Parade te gaan beleef. Saam met ons goeie Duitse vriendin Annette. Daar’s mos iets omtrent ‘n groot event – as jy deur die hekke gaan dan begin jy sulke hoendervleis-aanvalletjies kry, en glo my, gister s’n was presies so.

Die storie word indrukwekkend bedryf – rond beweeg is maklik en bier-koop is vinnig (hulle slaag die groot toets!). Die skerm is massief, so g’n kans jy mis iets nie. Annette reken dis op standaard met die vorige WB in Duitsland.

En die gees was groot – Kaapstad het nog nooit ‘n tekort aan Duitsers of Britte gehad nie, wat beteken het die Parade was gelaai. En net 20 minute in die game in vat Duitsland die voortou – daar word gejuig, gespring, nog biere gekoop en die meisie met die Engelse vlag langs ons staan in trane.

Die hele storie het van daar af net al hoe meer in Duitsland se guns getiep (bygesê, daai dodgy call van die ref kort voor rustyd was nie cool nie – dit was duidelik ‘n goal vir Engeland). ‘n Groepie Duitsers het agter ons gegroei en ‘Super Deutchland’ het elke keer ‘n bietjie harder deurgekom. Ek dink vir ‘n tydjie kon ons klomp Kapenaars ook in Duits sing! Die groot klomp Britte het stiller geraak. Die een knaap so ent weg, wat met ‘n Engeland-trui daar aangekom het, het nou ‘n gewone trui bo-oor gedra en Duitse strepe op sy wange gehad. Hy’t net so half verleë vir my ‘cheers’ gewys met sy bier toe ek vir hom uitwys sy Engelse trui steek nog so ‘n bietjie uit!

En dis hier kort voor die einde wat ek so om my kyk – mense wat fees vier en sing, vuvuzela’s wat ritmes uit basuin, die massiewe verhoog en skerm voor ons, Tafelberg wat net sy laaste rooi van die son afgeskud het, die stadsaal wat langs die berg uit troon, en toe… toe kom daar ‘n hadida met eeue-oue vlerk-trekke net so bo die lyn van die Tafelberg-silhouette oorgevlieg. So asof niks verander het vir hierdie maand in die Kaap nie. Want oor ‘n maand wanneer almal nog met die groot Wêreldbeker-babbelas sit, gaan die Kaap nog steeds sy gewone lekker vibe hê. Soos dit ook was die dag voor daai 3 groot skepe van Holland hier aangekom het, onder andere. Tydloos.

Ek’s stoked ons het gegaan. Die laaste ding wat ek nog gaan doen met die World Cup, is om die Fan Mile van Adderleystraat tot Groenpunt te gaan stap op ‘n match dag. Ek was heeltemal apaties oor die WB tot so tyd terug, maar nou is ek fully into dit! Oor 3 weke is dit oor en verby. Dis ook lekker om daar te kan staan en te kan voel hoe die optimisme en vreugde al die maande en jare se pessimisme en smartvrate totaal oorskadu.

Nice one, SA! Ayoba!!


Discover more from The South African Rock Encyclopedia

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Published by The Editorial Team

The South African Rock Encyclopedia was founded by Brian Currin and Stephen "Sugar" Segerman in January 1999.

One thought on “Germany 4:1 England, 86:32 and ticking…”

Leave a Reply

↑